Laventel in die Karoo

“Vergeet dit! Daar is geen kans dat ek hierdie doen nie!” Tuis gooi die pamflet op die tafel.

“Ag boeta, regtig nou. Jy is besig om ‘n kind te wees.” Katrien tel die pamflet op en gooi Tuis daarmee.

“Katrientjie, so lief soos wat ek jou mag hê so min gaan jy my saam sleep na een van jou hippy-dippy gedoentes.”

“Dis ‘n freaking wellness retreat jou barbaar. Dit sal goed wees vir jou om van die plaas af te kom.” Katrien gee ‘n lang sug en probeer moed skep. Wat gesê moet word mag dalk haar ouboet dryf om haar te wurg.

“Dis al ses jaar Tuis. Ses jaar wat jy probeer om jouself dood te werk en langs haar te plant. Lara sou nie…”

“Mag haar siel rus in vrede.” prewel Tuis en knyp sy oë toe om die trane te keer.

“Jy sê dit elke keer as iemand haar naam noem maar jy gee haar ook nie kans om in vrede te rus nie. Dammit Tuis, hierdie huis is ‘n time capsule. Alles is presies nog soos sy dit gelos het, selfs haar klere lê nog op die bed. Dis nie normaal nie man!”

Sy kyk sê vir haar dat sy nou op gevaarlike waters vaar. Daardie ys blou oë kan enige mens in hul spore laat vas steek. Tog sien sy ‘n man wat reg is vir oorgee. Die harde trek op sy gesig versag en hy gaan sit soos ‘n ouman wat die wa nie uit die modder gaan kry nie.

Tuis kyk lank na sy sussie. Laatlam wat haarself “new age” noem maar eintlik is sy net weird. Toe hy ingestem het dat sy ‘n rukkie by hom kan kom bly het hy geweet sy gaan kom karring aan sy lewe. Miskien wou hy hê iemand moes. Hy het geweet dis tyd om Lara se klere van die bed af te haal, om haar skoon koppie op die wasbak se rand terug in die kas te sit en om die kruideniers lysie wat op die kombuis tafel lê weg te gooi. Hy weet al hierdie dinge maar hy kan nooit deurvoer met sy plan om die huis op te pak nie. Om haar weg te pak asof sy nooit hier was.

“Ek kan nie net die boerdery so los nie.”

“Jaco het klaar ingestem om die naweek hier te kom bly.”

“Jaco se gat. Hy ken nie ‘n ooi van ram nie en dagga kweek is nie boer nie.”

Nou is dit Tuis was sy woorde moet tel want Katrien het haar hande op haar heupe geplant en sy het daardie kyk, die een wat sy hom kleintyd gegee het as sy moes gaan bad.

“Fine. Fine. Ek sal na jou stupid retreat gaan maar die eerste moer wat my wil drukkie of in ‘n drom sirkel wil in sleep stuur ek planke toe.”

Katrien gee hom ‘n klapsoen en ‘n groot glimlag.

“Ek gaan pak.” sê sy en sweef by die kombuis uit.

“En ek dra nie visplakkies nie!” roep hy die gang af en kry net ‘n “whatever” terug as antwoord.

“Kinders van vandag.”mompel hy en vryf oor sy gesig. Agt-en-dertig is ook nie so oud en tog voel hy soos ‘n man van vyftig. Hy kyk op na die foto van Lara op hulle troudag en hy kan die hand om sy hart ‘n vuis voel maak. Sy simpel vrou wat alewig moes draf want dit maak haar kop skoon. Hy het altyd vir haar gesê hy is ‘n man van die bybel en daarin word vertel only the wicked run when no one is chasing them. Sy het net altyd gelag, sy groeiende boep speels geklap en gesê sy gaan lekker sy geld spandeer as hy vroeg doodgaan. Toe is dit sy wat haarself in die besigheids kant van ‘n taxi vas draf. Toe is dit sy wat vroeg dood is. Toe is dit sy wat hom alleen los met al die mense en sy onvermoë om sosiaal normaal te wees. Hy staan op, vat haar skoon koppie en gooi dit by die venster uit. Dit hop net een keer op die stoep voor die in skerwe spat.

“Daar, nou lyk jy soos my hart.”mor en stap uit kraal toe.

Katrien loer versigtig om die hoek.

“Wel, dis ‘n stap in die regte rigting.”dink sy en begin soek vir die besem.

Sy gaan staan voor Lara se foto en vryf saggies oor sagte oë wat so diep in jou siel kon kyk.

“Ai skoonsus, hoe kon nou ons met hom gelos het.”fluister sy en vee haastig die trane weg.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s